
Bloemfontein Kinderkoor voer "flash mob" uit in Mimosa Mall
Loading player...
Besoekers aan Mimosa Mall in Bloemfontein is laat gistermiddag met die strelende stemme van die Bloemfontein Kinderkoor gegroet, toe die koor aan 'n sogenaamde "flash mob" deelgeneem het. Ongeveer twintig lede van die Kinderkoor het 'n onverwagse vertoning van die Koos Kombuis-treffer, Lisa se klavier, in die restaurant-gedeelte van die inkopiesentrum opgevoer, en toe skielik weer tussen die res van die inkopiegangers verdwyn. Koorafrigter, Huibrie Verster, sê die vertoning was 'n poging om Bloemfonteiners bietjie lus te maak voor die koor se deelname aan die Moments skouspel. Dit vind op 22 en 23 April in die Sand Du Plessis plaas, en sluit ook optredes deur Sonja Herhold, Eloise Cupido en die Willie Venter Dansers in. Verster sê die koor berei ook voor vir 'n toer na Noord-Amerika.

