
Korkie-boek binnekort op winkelrakke
Loading player...
Dit was gister presies twee jaar gelede wat die Bloemfonteinse weduwee, Yolandé Korkie, in Jemen as gyselaar deur Al-Kaïda vrygelaat is. Haar man, Pierre Korkie, ‘n gewese onderwyser van Grey-kollege in die Rosestad, is steeds as gyselaar aangehou nadat hulle in 2013 in die stad Taiz, ontvoer is. Die egpaar en hul seun en dogter het in Jemen gebly waar Pierre Engelse klasse by ‘n internasionale skool aangebied het. Yolandé sê hulle herdenk lewensingrypende dae soos haar vrylating omdat ‘n mens God se genade daarin sien. Yolandé is op 10 Januarie 2014 sonder ‘n losprys vrygelaat ná ,Gift of the Givers, se suksesvolle onderhandelings met Al-Kaïda. Sy sê haar boek, 558 dae, is ‘n meesleurende vertelling van hul ontvoering tot haar vrylating, asook Pierre se dood tydens ‘n mislukte reddingspoging deur Amerikaanse magte. Die boek verskyn na verwagting op 20 Februarie op die winkelrakke in Afrikaans en Engels. “Dit is ‘n op-die-been-toe en eerlike joernaal waarin Christene en Moslems mekaar ontmoet en leer ken as skepsels uit God se hand. Die storie vervat intense vrae wat elke mens aan jouself en God in oomblikke van pyn en trauma stel. Dit is ‘n storie van hoop, geloof en liefde.” Die boek, wat uitgegee word deur Cum-uitgewers, is by ‘n verskeidenheid boekhandelaars landwyd beskikbaar. Die Bloemfonteinse skrywer, Maretha Maartens, het die Afrikaanse vertaling gedoen.

